Hallo Meneer Copycat (15 Desember 2017)

Daai soustafeltjie

Hallo Meneer Copycat (een van die sowat 60+ nou al),

[Geredigeer, Maart 2018: Neem kennis dat daar ‘n suksesvolle voorlopige patent (“patent pending”) aansoek toegestaan is in Februarie 2018 op hierdie, asook enige toekomstige ontwerpe van hierdie tafeltjie. Indien jy dus hierdie of ‘n soortgelyke ontwerp kommersieël beskikbaar wil stel, adviseer ek jou om rekords te begin hou van jou verkope.]

Jammer ek ruim nou eers tyd in om met jou te gesels, maar ek was hopeloos te besig om my oorspronklike Boggom soustafeltjies te bou en te verkoop, as om op die man af met jou te gesels.

Eerstens dude, voordat ek in die nitty gritty details ingaan – hemel tog man, mens skroef nie skroewe van die bokant af deur ‘n tafelblad nie! Deur GEEN tafelblad nie dude, al is dit hoe klein ookal. Dis bloot swak vakmanskap.

Nou goed, nou voel ek beter. Daai skroewe van jou het my die meeste gepla.

Dan – jy weet seer sekerlik dat ‘n spyker net homself vashou, en bogger all anders, nè? Nou vir wat gaan spyker jy ‘n klomp planke aanmekaar en noem dit ‘n soustafeltjie? Die ding gaan mos uitmekaar uit neuk met die eerste harde neersit-slag?

WAT, vra ek jou met trane in my navy blou oë – het jy gebruik om jou hoeke (angles) mee uit te werk? Jou kind se passerstel? ‘n Stokou gradeboog? WAT? Want sien, jou tafeltjie se bene lyk soos ‘n ysskaatser wat wil-wil split… en dit gaan seer wees. En dan’s hulle nie eers teen dieselfde hoek nie!?

Die hout wat jy gebruik is onidentifiseerbaar. Ek het hard probeer, maar ek gee wragtag op. Never mind die feit dat jy geen idee het dat die houtgrein mooi saam met die blad moet loop, en nie dwars nie. Eish dude.

En nou gaan verkoop jy die stuk gemors aan iemand vir R10 minder as wat myne kos? Nooit…

Kom ek wed jou – sou jy die moeite gedoen het – het jy die volgende besef:

  • Wat jy gedink het gaan jou ‘n uur of twee neem, het jou toe ‘n hele dag in beslag geneem. Dis nou as jy dit reg doen. En dit sluit die verf van die tafeltjie uit. Daai is nóg 2 dae.
  • Eerstegraadse knotty pine is duur, nè? Dis seker hoekom jy dit nie gebruik nie. En dit (knotty pine) het sopas met 43% in prys verhoog.
  • Jou handsaag is nie opgewasse vir die taak nie. En jy kry ook nie mooi reguit gesaag met ‘n tafel- of mitresaag nie, want jou skills ontbreek so effens.
  • Dik hout lyk soos die hond se gat op ‘n tafeltjie wat veronderstel is om ‘n skaalmodel van iets groters te wees. Soos wat die tafeltjie kleiner word, moet die hout ook in verhouding dunner word – maar dit sou beteken dat jy die hout moet dunner sny of afwerk – wat obviously hopeloos te veel moeite vir jou is, Meneer Copycat.
  • Jy het geen idee wat ‘n router is, of wat dit doen nie. Daarom is my oorspronklike Boggom soustafeltjie aan BEIDE kante (bokant en onderkant) van die blaaie en sitplekkies afgewerk. Aan die bokant het ek ‘n rounding over bit gebruik, aan die onderkant het ek die skerp kante van die hout met ‘n 45 grade bit afgewerk. Ek sien jy het jou blaaie en sitplekke gesaag… en toe net so gelos. Te veel moeite en harde werk om dit te rout, nè?
  • Terug na die spykers wat jy gebruik het om jou St.6 houtwerkprojek mee aanmekaar te flans – ek hoop jy het darem gom ook gebruik, alhoewel ek sou skat dat dit cheap goed is. Ek gebruik Alcolin se blou reeks, of Brummer se Balcotan. Indien jy die moeite gedoen het om te gaan kyk, sou jy geweet het… daai lym is vrek duur, nè?
  • Het jou tafeltjie darem ‘n stuk skuurpapier gesien, of nie? Want dit lyk nie so nie… In Boggom se geval, word die blaaie en sitplekke geskaaf, dan met ‘n 100 grit afgewerk, daarna 180 grit, en laastens met ‘n 240 grit op ‘n orbital sander. Net soos met die lym, sou jy agtergekom het… skuurpapier is duur, nè?
  • Is jou knockoff geverf of vernis, of verkoop jy hom sommer net so rou? Want sien, die oorspronklike Boggom soustafeltjie kry ‘n hele 3 lae Gripseal Clear – en word tussen lae mooi geskuur ook. Jip, jy’s reg – Gripseal is woes duur, nè?
  • Toe tannie Sus wou hê jy moet ‘n knockoff vir haar Pofadder toe stuur, het jy vir die eerste keer kennis gemaak met die term “volumetriese gewig”. Postnet moes herhaaldelik vir jou verduidelik hoekom jou 1 kg St.6 projek nou skielik 9 kg weeg – en hoekom jy nie kwalifiseer vir die R99 opsie vir minder as 5 kg nie. En toe kos dit jou R322 om die pakkie by tannie Sus uit te kry. Wat sy om die dood nie wou betaal nie. Koeriers is duur, nè?
  • Jy het gedink jy gaan sommer gou ‘n boks koop iewers… bokse is duur, nè? Jou tafeltjie is toe sommer net so in ‘n boks wat jy agter die Pick n Pay opgetel het, hier weg. Sonder beskermende verpakking. Al Boggom se produkte word met EVA spons verpak en beskerm. Gaan Google hom. O ja, en vind bietjie uit – daai spons is duur, nè?

Na dese gaan dit my verstand te bowe hoe jy dan die vermetelheid het om jou knockoff te probeer verkoop vir R10 minder as myne – of soos daai een ou, sommer vir 40% duurder as myne. Want jy het definitief nie R10 minder effort ingesit as ek nie. Of R10 minder aan materiaal gespandeer nie.

Ook: sou jy voorts die vermetelheid hê om my produk se professionele studio foto te gebruik – waarvoor ek ten duurste betaal het, jou bliksem – is jy laag en gemeen. Bo en behalwe die feit dat die foto kopiereg ophet, en die Boggom logo ‘n geregistreerde handelsmerk is, kan jy duidelik NIE ‘n produk van daardie gehalte lewer nie. Ook – hoe die moer gaan jy die Boggom logo daarop aanbring, en wegkom daarmee?

Wat jy MOES gedoen het, was bloot om vir Boggom te kontak, en te vra vir afslag op 20+ tafeltjies. Dan kon ons besigheid gesels het, jy hoef nie al die effort in te gesit het om ‘n enkele tafeltjie te bou nie, jou kliënt ontvang ‘n kwaliteit produk, en almal is happy, gelukkig en tevrede.

Maar nee – jy probeer eerder ‘n quick buck maak. En toe loop jy jou vas in 10,000+ Boggomjane, wat jou vasvat in die comments van jou knockoff se advertensie. Mooi man. Ek wed jou jy het nie daai een verwag nie.

Nou is jy bloot op my lys van mense om nooit, ooit mee besigheid te doen nie.

Groetnis,

~ Boggom

Boggom se oorspronklike soustafeltjie is hier te koop.

It’s not inside – it’s on top (6 September 2017)

Weereens gee ek my ouderdom lekker weg, want sien – indien jy die oorspronklike Cremora TV advertensie kan onthou, begin jy maar verlief neem met die feit dat middeljarige mense jou deesdae beginne ‘oom’ en ‘tannie’.

Selfs oom Jan Spies het dit op sy voorstoep gesit en beaam. Cremora was sy ‘koffiekapitaal’ – pure plaas. Ryk… en lekker.

Só het Cremora destyds goeie verbruikers van ons almal gemaak – of jy nou Ingils- of Afrikaanssprekend was. Cremora het vir dekades on top of die fridge staanplek gekry, of inside die spens.

Sedert 2014 is dit egter nie meer so rooskleurig in die land van koffieverromer en heuning nie.

Tannie Sarie Marais (wat in die wyk van die Mooirivier woonagtig was), het op 29 Januarie 2014 die koerante laat weet dat die rivier nou maar hernoem kan word na die Melkrivier, nadat daar ‘n groot hoeveelheid Cremora eers in die Wasgoedspruit, en toe later in die Mooirivier beland het.

Skaars twee weke na hierdie oepsie het ek, nes oom Jan Spies destyds, op iemand se stoep gesit en die eerste teug van ‘n koffiekapitaal-verrykte boeretroos geneem – en dit plotseling met ‘n sierlike boog bo-oor die stoepreling tot in my gasvrou se dahliabedding uitgespoeg.

Dit smaak my Nestlé het aan die resep gaan karring, of vergeet om ‘n bestanddeel terug te sit – iets wat heel moontlik vir altyd in die Mooirivier weggespoel het.

Indien oom Jan nog gelewe het, is ek seker hy sou met byvoeglike naamwoorde vir dié nuwe smaak vorendag kom wat vir geslagte onthou en oorvertelle sal word. Ek gaan nie eers probeer nie – ek bly vassteek op “Kuk Sleg”.

Nou ja.

Koffiekapitaal. Ryk… en lekker.Oom Jan Spies

Kort voor lank begin ek skalkse kyke in tannie Ellis Brown se rigting gee. Vir die eerste keer vandat ek kan onthou, skraap ek die moed bymekaar om haar uit te neem vir koffie.

Tannie Ellis het so ‘n sweempie van ‘n chemiese nasmakie gehad in die begin, maar skaars 3 bokse later was ek gewoond daaraan. Toe koffiekapitaal ek weer lekker, soos ‘n wafferse verromer-verraaier op die voorstoep.

Dit het Cremora sowat 3 jaar geneem om agter te kom dat ek gereelde koffie dates het met ‘n verrukliker verromer.

So ‘n paar maande gelede verloor Cremora 20% van haar gewig, en val van 1Kg na ‘n slanke 800 gram. Sy trek ‘n splinternuwe, stywe blou somersrokkie aan, fladder haar wimpers – en maak haarself goedkoper as tannie Ellis Brown for good measure.

Ek laat my egter nie so maklik verlei nie. Smaak is ‘n sintuig wat jy nie sommer net so in twyfel trek nie.

Wanneer ek wel geldjie het, koop ek nog steeds Ellis Brown. Dan gee ek die Cremora langsaan se slanke lyfie so ‘n vuil kyk, en gooi my kop vermakerig agteroor.

Ek is vreeslik bly ek het nooit vir tannie Ellis verneuk nie… ek sien sy het ook nou onlangs 20% van haar gewig verloor.

Maroelas en al daai mooi dinge,

© Boggom

Die versteurde Voortrekkers (4 Julie 2017)

Die Kappie Tannie

Soos in enige gemeenskap die geval is, glo ek dat daar selfs destyds met die Groot Trek ‘n paar individue saam is wat nie altyd all there was nie. Mense wie se wielietjie draai, maar die hamster het al lankal afgeneuk.

Die mooi Afrikaanse uitdrukking sou wees “van lotjie getik”.

Nie dat die Voortrekkerleiers self al hulle varkies op hok gehad het nie. Jy moes effe getik wees om kaalvoet die Drakensberge te wil oor. Of bloot goed moerig en gatvol vir die Engelse.

Dit het dalk kwaai romanties geklink; veral nadat jy ‘n groot trek aaptwak gevat het. Stoksielalleen die onbekende wildernis in. Nie ‘n tolhek of ‘n spietkop te bespeur vir ‘n duisend seemyl nie. Salig, man.

Alles was klopdisselboom – totdat Katryntjie een sonskyndag haar verlore blokfluit in die wakis ontdek het. Aangesien sy geen instrument kon bespeel om haar lewe te red nie en nog toondoof was op die koop toe, is sy eers die kampvuur, en toe later die laer belet.

Kort voor lank het die toondoofstes van die toondowes by haar aangesluit, daar waar sy onder die verlate kameeldoringboom haar tentjie buite hoorafstand van die laer opgeslaan het.

Soort soek soort, en dit was nie te lank nie of die versteurdes het hulle oor haar “ontferm”, en hulle waens gaan staanmaak langs Katryntjie se tent. En toe is die gort gaar. Jippie jippie jip, my ou ryperd.

Die mooi Afrikaanse uitdrukking sou wees “van lotjie getik”.Boggom

Sou die trekleier meer oplettend en besorgd was oor Katryn, het ons nie met allerhande weird liedjies in die FAK gesit vandag nie. Dalk was hy op ‘n slag binne hoorafstand van Katryntjie en Koor, en het dit vir hom heel onskuldig geklink in die begin:

“Vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny,
en vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny.”

Ten minste het iemand die blokfluit begrawe, het oom Theuns Trekleier dalk by homself gemymer. Maar nou ja, soos dit mos maar altyd gaan – hoe later, hoe kwater.

Wat oom Theuns Trekleier totaal gemis het, was die refrein:

“My geliefde hang in die bos,
my geliefde hang in die bos,
my geliefde hang in die bitterbessiebos.”

DUDE.

Was jy en Kinky Katryn weer ‘n hond in ‘n bos aan’t vrye? Watse perverse, versteurde Voortrekker dink sulke lirieke uit?

Kort voor lank het kleuters met traanstrepe oor hulle wange, kommerwekkende rympies begin sing wat dood onskuldig klink in die begin:

“Koljander, koljander so deur die bos,
my Ma en Pa kook lekker kos, [so far, so good…]

my boetie verstik aan ‘n druiwetros,
die laaste een se kop is af.”

DUDE.

Dis alles Katryntjie met die blokfluit se skuld.

Maroelas en al daai mooi dinge,

© Boggom

‘n Skreeusnaakse storie propvol emojis (21 Junie 2017)

Laasweek Vrydag omstreeks 🕜 het ek dit goed 🤔 om gou iets te gaan 🍖 en 🍺 by ‘n plaaslike pub.

Die pub se parkeerterrein staan tjok en blok vol blink motorfietse.

Aangesien ek ‘n ou biker is, voel ek baie gemaklik en heel tuis by die kroeg tussen die rowwe ouens. Almal lyk asof iemand hulle herhaaldelik met ‘n nat koerant geslaan het. ‘n Armada tattoos van groot skepe wat sink.

Nostalgies sit en dink ek terug aan die keer toe die hardhorende biker daai skraal outjie so ge🔩 het op die Impala Rally, way back in 2003.

Die vet alleen weet wat die tingerige outjie se 💩 was. Hy het in die verbyloop iets gemompel van die 💀 agterop ‘n biker se baadjie.

“❗Jy tune my WAT!?”, grom die biker.

“Ek sê: mompel mompel mompel, kan jy nie 👂 nie?” antwoord die laaitie braaf.

Die half dowe biker hoor: “😡 jou ma💪 ,👊 en 🤛 en 🤜, is jy 🔣 doof?”

En toe’s die gort gaar.

Die outjie probeer nog ☝️ en 🖐️, maar dis te laat. Die laaste wat ek hom hoor sê het terwyl hy sy vuisies parmantig bal, was “Hierdie is my 🍎, hierdie is my 🍐, hierdie een is lekker, hierdie een maak …”, toe 🔩 die biker hom.

Maar GOED, sê ek vir jou. Hy slat daai laaitie dat hy 🐤 soos ‘n squeaky toy, gil soos ‘n maer 🐖 en poep soos ‘n vals 🎺.

“🆘 😭🔄 😬 🖐️ ‼️” skree die laaitie naderhand.

Ek maak of ek 🙈🙉🙊 soos die 🐒 wat ek is.

“🌀🗜️🔣✳️🔨❗” sê die biker vies toe hy daar omdraai en begin soek na sy 🍺. “Die 🔣 klein Porra probeer groente verkoop – op ‘n donnerse bike rally.”

Appels, pere, maroelas en al daai mooi dinge,

© Boggom

Waarheen Boggom op pad is – ook bekend as “Plan B” (20 Junie 2017)

Boggom se Plan B

Waarheen Boggom op pad is: ‘n stap-vir-stap verduideliking (met apologie aan Robbie Wessels)

As daar nou een ou is wat glad nie ‘n lang storie kan kort maak nie, is dit ek. Gelukkig het ek ‘n goeie verskoning, want sien – ek’s ‘n skrywer. Oftewel, ek probeer kliphard om een te wees. “Fake it ’till you make it” soos hulle sê. Ek gaan egter my uiterste bes doen om hierdie lang(erige) storie kort te hou.

Op hierdie stadium van die wedstryd voel ek dat ek jou, getroue Boggom-troplidmaat, ‘n verduideliking skuldig is. Van die buitekant af blyk dit dalk vir jou of ek totaal doelloos en sonder plan voortploeter, terwyl dit allermins die geval is.

Kom ons rewind tot by verlede jaar se Desember, en dan Action Replay ek vir jou my verhaal van daar af.

In Desember 2016 word ek vir die derde keer in my lewe by ‘n firma afgedank. Aangesien ek op daardie stadium nog besig was om te probeer herstel van werkloosheid rondte #1 (wat 21 maande geduur het en waartydens ek alles verloor het), was daar geensins ‘n veiligheidsnet of enigiets om op terug te val nie.

Plan A was om so spoedig moontlik ‘n boek te skryf, en dit dan aanlyn te probeer verkoop. So gesê, so gedaan, en ek ploeg voort. Ek baken die grense vir myself af as die 2015/2016 tydperk in my lewe, en die boek kry gestalte en ‘n naam: Aapstreke Volume 1: van Rotfontein na Magalieskruin.

Teen Februarie 2017 het ek genoeg van ‘n raamwerk om te begin voelers uitsteek na uitgewers wat dalk sou belangstel – net om wreed ontnugter te word. Die uitgewersproses neem sowat 13 maande, en selfs dan is dit nie ‘n uitgemaakte saak dat die boek ooit die lig sal sien nie. Ek besluit om die “self publishing” roete te gaan, aangesien ek nie oor die luuksheid van ‘n maandelikse inkomste beskik om vir 13 maande aan die lewe te bly nie.

Maart en April 2017 kom en gaan. Elke einde van die maand krimp my noodfonds. Ek steek my trots in my sak, en begin noodgedwonge by my handjievol Facebook vriende aanklop vir hulp. Terselfdertyd loop ek onder fel kritiek van sommige sogenaamde vriende deur, omdat ek nie net bloot begin soek vir werk nie.

Plan A – Die Boek
Plan B – Die NegosiewinkelBoggom

Kom ek staan gou bietjie terug.

Tydens my eerste rondte van werkloosheid het dit my sowat 21 maande geneem om ‘n tydelike joppie te bekom, wat toe darem vir vier maande ‘n inkomste gegenereer het. Daarna was ek weer werkloos vir bykans ‘n jaar, en moes ek uiteindelik vat wat ek kon kry. (Van hierdie aaklige, vernederende rondte(s) sal ek julle meer in die boek van vertel.)

Ek is blank, manlik, ouer as 50 en het redelike ernstige gesondheidsprobleme. Inteendeel – aflegging rondte #2 was indirek as gevolg van ‘n chroniese outo-imuunsiekte wat ek onder lede het. My enigste vervoer is byna net so oud soos my mondige kinders. My kanse om ‘n boek te skryf en te verkoop (Plan A) is dus (vanweë my eerstehandse ondervinding) veel beter as om ‘n betrekking te bekom.

Daarom ploeg ek moedig voort, terwyl my geld aan die einde van elke maand al hoe minder raak. Ek daag enigiemand uit om humoristies te probeer skryf vanuit daardie magtelose posisie, waar die druk by die dag net al hoe groter en groter word, en die einde van elke maand meedoënloos aangemasjeer kom – terwyl jou inkomste op Rand-Nul bly stil staan.

Uiteindelik word die druk net té veel, en my inspirasie en daarmee saam ook my storie, droog by die dag op. Ek verbreed naderhand my self-opgestelde grense (die 2015/2016 jare) en begin die boek van die voorkant af uitbrei. Aapstreke Volume 1 sal dus heel moontlik die vorm van ‘n mini-outobiografie aanneem – en veel dieper en baie meer emosioneel wees as oorspronklik beplan. Om Boggom te wees is beslis nie vir sissies nie. Ek skrik my telkemale wit vir die verborge seer wat my hele lewe vol lê, diep begrawe.

Plan B lê al ‘n geruime tyd en broei – Boggom se aanlyn Negosiewinkel. Die idee was dat Plan B chronologies en natuurlik sou volg op Plan A. Ek bedoel – dit maak tog nie veel sin dat ek ‘n Boggomboekmerk aan jou probeer afsmeer, as daar nog nie ‘n Boggomboek is om te lees nie, dan nie?

Maar nou ja – my finansies is wat dit is. Om werk te probeer soek is nie ‘n opsie nie, want Suid-Afrika is deesdae ‘n land waarin ek nie meer welkom is nie. Om werk te begin soek, is vir my net so goed as om die handdoek in te gooi en myself as ‘n mislukte skrywer te brandmerk; summier op te gee op my droom. Ook: Plan A, vir die rekord – is tussen 60% en 70% klaar geskryf. En dan moet Plan A mettertyd nog ‘n Volume 2 tot (ten minste) Volume 30 by kry.

Dus – aktiveer Plan B.

Dis waar Boggom nou trek. Kry die Negosiewinkel so spoedig moontlik aan die gang, om sodoende ‘n inkomste te genereer sodat ek ‘n dak oor my kop kan hou, en dalk selfs meer as net sop en brood te kan koop nou en dan. Voordat die geld totaal en al klaar raak, en ek met ongepubliseerde manuskrip en al weereens op straat sit. Sodat die ontsettende druk kan afneem, sodat ek kan slaap in die nag, en die mees belangrikste – sodat ek “Plan A Volume 1” kan klaar skryf, en verkoop.

Dis waar Boggom nou is. En dis waarheen Boggom op pad is.

Maroelas en al daai mooi dinge,

~ Boggom

Naskrif: vreeslik dankie weereens vir al julle comments, onderskraging en ondersteuning. In my wildste drome het ek nie kon dink dat ek sulke awesome fans sou hê nie. 

Richard Gere – hoedat ek weet hy’s ‘n opregte omgeemens (14 Mei 2017)

My generasie, soos wat Steve in een van sy talle boeke skryf, is bekend as die “met/sonder” generasie. Ons het beide “sonder”, maar ook “met” die huidige tegnologiese wonders grootgeword.

Nie net met en sonder rekenaars, selfone, Google, Facebook, e-mail en die Internet nie – selfs met en sonder televisie. Toestelle wat deesdae alledaags is, soos byvoorbeeld die TV se afstandsbeheer, was vir my as kind die coolste uitvindsel ooit. Voor die koms van televisie het ek as knopknieë-seuntjie saam met my oupa Saterdae-middae, vasgenael voor die radio, na oom Spiekeries se rugbykommentaar geluister. Ek kan nou nog die Britse Leeus se toer na Suid-Afrika in 1974, asook die Springbokhelde en rugbylegendes se name van daardie gloriejare, so duidelik soos gister onthou.

Met daardie stelling gee ek natuurlik nie net my eie ouderdom weg nie, maar sommer Steve s’n ook. Ons twee is tydsgenote.

Onlangs besef ek dat dit nie slegs tegnologie is wat ver “gevorder” het sedert my kinderdae nie – maar daarmee saam ook die wyse waarop mense deesdae simpatie en empatie toon vir ‘n ander.

My ma was ‘n wonderlike omgeemens wat honderde mense in haar kort lewe aangeraak het. Ek wou skryf “selfs duisende”, maar julle gaan dink ek oordryf. Die moontlikheid is egter groot dat dit tog wel meer as ‘n duisend siele was.

Gebroke katte, honde, voëls en ‘n verskeidenheid ander diere het deur die verloop van die jare by ons geloseer. Dis dalk diere-instink, wie sal weet – maar ons beskeie huisie was altyd ‘n hawe. Daar was ook gereeld ‘n deurloop van gebroke mense, wat by Ma kom hulp en raad vra het. Sy het gesond gemaak waar sy kon, raad gegee waar sy kon, pleisters op stukkende emosies geplak waar sy kon.

‘n Dag wat my altyd sal bybly, was die dag wat ek as gevolg van omstandighede (as ‘n 23-jarige man, toe al) vroegoggend saam met Ma bus gery het stad toe. Sy het vrek ver van die huis af gewerk , en het op Kerkplein in Pretoria haar tweede bus gehaal.

Ek stap saam met haar na die volgende bushalte toe. Drie boemelaars sit op die trappies aan oom Paul Kruger en sy burgers se voete. Ek vermy oogkontak. Ma stap nader en groet almal op die naam, deel drukkies uit, vra uit oor hulle welstand. Groot is my verbasing; nog groter is die besef dat my eie Ma selfs hierdie afgeskeepte boemelaarsiele daagliks moes aangeraak het.

Jare later sien ek my eie kinders dieselfde ding doen, en my hart swel.

My Ma is van ons weggeneem lank voor Facebook se bestaan. Ek het geen idee hoe sy empatie en simpatie teenoor haar medemens sou probeer toon het met deesdae se tegnologie tot haar beskikking nie. Ek kan my nie indink dat dit enigsins aanklank sou vind by haar Patch Adams omgeemenswees nie.

Met hierdie nuwe tegnologie tot ons beskikking, plak ons deesdae pleisters op iemand se emosionele wonde deur ‘n post te “like” (of deesdae ‘n traantjie-gesiggie daarop te sit). Jy het mos nou ge-kliek en ge-traan; jou deel gedoen. Die persoon aan die ander kant voel nou sommer stukke beter. Dan nie?

Indien jy sou voel ‘n blote “like” is darem ‘n bietjie te skraps, sou jy jouself beter laat voel deur ‘n comment te maak, of ‘n prentjie te plak. Nou het jy darem meer gedoen as die gemiddelde. Nou voel die persoon aan die ontvangskant heelwat beter.

Weet jy – nee, hy/sy doen glad nie. Want jy het nie eers die moeite gedoen om jou gat uit jou stoel uit te lig nie. Selfs net jou foon op te tel en die siel te bel nie. In jou motor te klim en die mens wat dit so bitter nodig het, ‘n drukkie te gaan gee nie.

Ek moet bieg – ek is self skuldig. Persoonlik het ek egter ‘n ander stukkie gereedskap in my arsenaal – ek hou van skryf. Die persoon aan die ontvangskant mag dus ‘n lang omgeebriefie van my ontvang via e-mail. Dit laat my darem (effens) beter voel – en hopelik die persoon aan die ontvangskant ook. Maar dis darem wragtag ‘n sad en sorry excuse vir daardie stywe beerdrukkie.

Ons is emosionele gevangenes van hierdie nuwe tegnologie, gebonde aan ons rekenaars, ons tablets en ons selfone. Ons het onbewustelik emosioneel bitter hard en koud geword met hierdie sogenaamde “sosiale”, onpersoonlike media.

Sowat vier jaar gelede was Richard Gere ‘n gas op ‘n Amerikaanse “live show”. Dit mag moontlik op Oprah gewees het; ek kan nie mooi onthou nie. Die onderwerp onder bespreking was intens emosioneel – soveel so dat een van die vroue in die gehoor onbedaarlik aan die huil gegaan het.

Richard het net daar, “live television” of te not, opgestaan uit sy stoel uit. Die mikrofoon (tesame met die se drade) wat aan sy lapel vas was, asook die elektroniese boksie wat die tegniese span aan jou belt se agterkant vasmaak, het doer getrek toe hy die gehoor begin instap – reguit na die ontstelde vrou toe.

Hy het nie ‘n saak gehad met die tegnologie, of die sosiale norme wat hom “gebonde” gehou het aan sy ateljee-stoel nie. Met trane vlak in sy eie oë, is hy tussen die mense in na die hartseer vrou wat hy van geen kant af ken nie – en het hy haar ‘n beerdruk gegee, op sy hurke langs haar gaan sit en met haar gesels totdat sy kalmeer het.

Suiwer deernis, empatie en simpatie – sonder Facebook se plastiese tegnologie. Soos wat ‘n opregte omgeemens sou doen.

© Boggom

Jy was nie meer daar nie (8 Mei 2017)

Jy was nie meer daar nie

Ons was daar vir mekaar vir baie lank. Mekaar se maatjies, mekaar se optel-na-nuwe hoogtes, mekaar se huppel-in-die-stap, mekaar se blink-oog-inspirasie, mekaar se skaterlag. Ons was soveel meer as net mekaar se beste vriende – ons was ook bondgenote, minnaars, sielsgenote. Ons het selfs ons eie bende gestig, lidmaatskap beperk tot net ons twee. Ons was trots daarop dat ons verhouding só uniek was, dat ons later ‘n inkomste begin genereer het uit mekaar se ons-vul-mekaar-aan. Waar in die wye wêreld kry mens meer uniek as dit?

Ons was vir baie lank mekaar se ons – totdat ons op ‘n dag ‘n ek en ‘n jy geword het.

Ruiterlik moet ek erken dat ek jou begin afskeep het. Dat ek eerste was met nie-meer-ons. Maande later sê jy vir my – maar jy was gelukkig met ons. Hartseer gedagte, skrale troos, feit bly staan – ek het ons begin afskeep.

Op ‘n dag verbreek ek my liefdesbande met jou. Ek ontbind ons bende, ontneem jou van jou lidmaatskap; verander die slot op die valdeurtjie van die bendeboomhuis.

Kort voor lank begin ek besef… ek mis my maatjie vreeslik.

My huppel-stap begin sleep-voet raak,
my oë verdof, my lag nie meer so skater nie.
Klippe, die skop ek op my eie nou,
want sien – jy was nie meer daar nie.

Donker wolke pak om my saam – ek gaan my werk verloor!
Die vrees, die beklemming kom sit yskoud om my hart,
ek hardloop, hardloop na ons boomhuis om jou te vra “wat nou?”
Maar jy was nie meer daar nie.

Jy kry ‘n nuwe maatjie, so splinternuut en blink sy speelgoed,
my tyd stap aan, die wolke swaar, die kolk van depressie maal en maal;
die beklemming groot,
want – jy was nie meer daar nie.

Ek laat briefies vir jou onder ons geheime klip, selfs ‘n kortverhaal in kode,
die bendehuis word nie deur jou besoek, jy speel saam met jou nuwe maatjie.
Jou goedjies in ons bendehuis word dof van stof, en ek… ek mis my maatjie.
Want jy was nie meer daar nie.

Ek stap ons saamloop-spore terug tot by die heel begin,
waar ons kaalvoet-verlief ons eie voetpad begin loop het.
Dis seer, dis seer, so bitter seer…
want jy was nie meer daar nie.

Ek huil en rou, ek selfverwyt, ek kolk af in my depressie,
ek skryf en skryf uit magteloosheid, doen ondersoek,
en vra ‘seblief, vergewe my? Jy hoor my nie, want sien…
jy was net nie meer daar nie.

My siel bedaar, die storms woed uit, en ek besef
daar’s ander wat my ook nodig het.
Ek kan maar net sowel tyd aan hulle spandeer, want sien…
jy’s tog nie meer daar nie.

Gebroke mense kruis my pad, en ek verskuif my fokus.
Jy speel huis-huis op die plaas van jou nuwe maatjie.
Ek loer vir oulaas in by ons ou boomhuis, en kom tot die besef…

Jy is glad nie meer daar nie.

© Boggom


‘n Uittreksel uit Boggom se boek (waaraan hy steeds skryf dat dit klap).

In “Aapstreke Volume 1: van Rotfontein na Magalieskruin”, skuil daar ‘n hele klompie verrassings. Dis nie net bloot ‘n storie nie; dis ‘n opwindende wipplankreis saam met Boggom op sy lewenspad. Daar is heelwat lag en huil, humor en hartseer.

Hoe skryf ‘n skrywer? (2 April 2017)

Die kort antwoord is: baie moeilik.

Ek glo heelwat mense is onder die indruk dat om te skryf, ‘n maklike ding is. Jy plak jou gaai neer op ‘n stoel voor ‘n rekenaar, maak ‘n MS Word dokument oop en begin tik. Hoe moeilik kan dit nou wees?

Donners moeilik, laat ek jou vertel.

As jou enjin die dag nie op al sy silinders wil fire nie, dan doen hy net nie. Jy kan op jou kop staan en Jan Pierewiet deur jou jy-weet-wat fluit – die idees wil nie kom nie, die woorde wil nie vloei nie, die bladsy wil nie vol nie. Dae soos daardie kan jy maar netsowel die f-woord hardop sê en dit los.

Eksterne omstandighede (soos bv. finansiële druk en verpligtinge) het die vermoë om jou kreatiwiteit nek om te draai, of sommer kaalhande te verwurg.

Jou gemoedstoestand dra ook ontsettend baie by. Ek daag enigiemand uit om upbeat, humoristies en lig te skryf wanneer jy in ‘n swartgallige bui is. Daai kite wil nou maar net nie vlieg nie.

Daar is tye wanneer ek van die goete lees wat ek maande gelede geskryf het, en dit weer emosie by my uitlok. Soms lag ek hardop vir my kop se stront wat ek neergepen het, ander kere klem die seer om my hart – en partymaal (soos juis nou) is ek bang om weer besoek te gaan aflê by die man wat ek was; die omstandighede wat ek moes verduur.

Ek sal moet, al is dit hoe moeilik. Dit gaan deel vorm van Aapstreke 1, dis deel van my storie – maar ek weet voor my heilige siel dat daardie herbesoek my gaan opdons vir weke. My tranerig en huilerig in ‘n hoek gaan laat vir dae.

Skryf is nie bloot net skryf nie. Dis nie net iets wat jy gou as ‘n “afterthought” na werk, iewers tussen 20h00 en 21h00 inpas nie. Dis nie iets wat jy oor naweke doen as ‘n stokperdjie nie (wel, seker nie as jy dit bloot as ‘n stokperdjie wil doen nie).

Dis siel en hart se dinge ontbloot, skryf. Dis lag en dis huil, dis hartseer en dis alleen. En dis donners moeilik.

Maroelas en al daai mooi dinge,

~ Boggom

Gróót Moeilikheid in Magalieskruin, Pretoria (11 Maart 2017)

Douvoordag Saterdagoggend 11 Maart, hoor ek vir Labstes die Labrador vreeslik en verskriklik blaf aan die onderkant van die erf, straat se koers.

Gewoonlik groet en gesels sy met die honde wat hulle eienaars vroegoggend aan ‘n leiband in die straat rondsleep/vir ‘n stappie neem. Dis doodnormaal, en dus bou ek eers heel rustig ‘n beker boeretroos voordat ek vir Labs nader roep vir haar eerste Heerlike, O So Begeerlike Bacon Beeno-beskuitjie vir die dag. Dis gewoonlik ‘n groot treat.

Terwyl my koffie brou, fluit ek vir Labbie. Sy kom om die hoek gestorm, gryp die Beeno-beskuitjie onseremonieel uit my hand uit, sluk die ding heel in – en storm weer terug om die hoek straat se kant toe, al vreesaanjaend-blaffende.

Beker boeretroos in die hand, klouter ek versigtig berg-af om ondersoek te gaan instel na die rede vir Labs se vreemde gedrag.

Tot my groot skok kom daar ‘n móérse lot mense aangehol in die straat, rigting afdraende. Uit paniekerigheid gooi ek my beker koffie dat hy daar trek, en begin binne-in die erf in dieselfde rigting weghol vir die ding wat die spul mense so jaag, tot in die hoek waar die buurman se pallisadeheining my holrug-omkyk-vordering summier staak.

Katswink, en ook omdat ek glad en geensins nie gewoond is aan sulke strawwe oefening nie (veral nie daai tyd van die oggend nie) neem dit my amper 10 minute om my asem terug te kry.

Hande op die knieë en hygend na asem as gevolg van my onbeplande Wayde van Niekerk-styl 50-meter sprint, bekyk ek die spul wat so weghol van naderby. Wat ookal die scary ding is wat hulle jaag, het so waar as wragtig eers die tyd geneem om op elkeen van sy slagoffers ‘n sticker met ‘n nommer op te plak.

Dalk het hulle ontsnap voordat die ding wakker geword het vanoggend, dink ek by myself. Kan jy jou die grootte van die hok indink waarin hy die spul moes aangehou het? Daar’s letterlik honderde van hulle, die oorgrote meerderheid met skelpienk, neongroen of padwerker-oranje jurke aan. Watse siek, selfrespecting Godzilla trek sy slagoffers só aan?

Pantoffel-ekke staan nie ‘n kans nie; die skoene wat die horde aanhet blyk doelgemaak te wees om vêr die berge en wye vlaktes in weg te hol.

Ek is veel slimmer as die spul wat so paniekerig probeer wegkom van die ding af. Ek het myself gaan toesluit in die huis en onder die bed kom wegkruip.

Maroelas en al daai mooi dinge,

© Boggom

Laataand verlange (1 Maart 2017)

As ek saans met my maats om die kampvuur sit

“As ek saans met my maats om die kampvuur sit,
kampvuur sit, klop my hart van puur genot…”

Die ouer Boggomjane onder ons sal hierdie liedjie kan onthou uit hulle prille Vorie-jeug. Die jonger trop sal egter moet gaan Google vir sy oorsprong, om te probeer bepaal waar die liedjie inpas in ons herkoms.

Wanneer ek en my maats deesdae om die kampvuur sit is dit met ‘n selfoon of tablet byderhand, want sien – ons klomp sit deesdae om aparte kampvure. Bitter ver van mekaar af.

Dis steeds effe genotvol want ons kan mekaar darem PM op Facebook – maar dis net nie dieselfde as toe hulle nog hier was nie.

Ek mis my maats, ek verlang myself hartseer-stukkend na my familie en my bloed. My awesome niggie is nou al meer as ‘n dekade in NZ; sy sit langs ‘n kampvuur in die land van die silwer varing. Ander geliefde familie het gaan ver-Amerikaans, en sit deesdae langs hulle barbecue en PMs stuur. Oud-studente en kollegas van my is die wêreld vol gesaai – in die land van Oz, in die UK, in talle ander vreemde lande met twee-letter-internet-afkortings.

Kleinneefs en -niggies wat ek nog nooit in lewende lywe ontmoet het nie wissel tande, gaan skool toe met knopknieë en gradueer later van tyd in foto’s op my Facebook newsfeed. Sonder ‘n stewige boere-bladskud of ‘n stywe druk, selfs sonder dat ek weet hoe jou stem klink, skrander familielid van my.

Die vuur brand laag, en ek staan stram op om nog ‘n paar stukke sekelbos te loop haal. My oë neem ‘n rukkie om gewoond te raak aan die donkerte. Met die terugkomslag besef ek – ek sit nou alleen hier langs die kampvuur in Suid-Afrika, almal is vort…

~ Boggom