Wat die trop (asook Landbouweekliks en Maroela Media) wou weet

Boggom Allerlei 3 Comments

Boggom het onlangs in die Landbouweekliks ateljee gaan kuier. Die joernalis Gerrit Bezuidenhout wou by hom weet hoe die handelsnaam Boggom ontstaan het asook waar die interessante name vir beide sy mans- en damesvelliereekse vandaan kom.

Gerrit Bezuidenhout gesels met Boggom op die splinternuwe Landbouweekliks stel

Mariné Lourens van Maroela Media het ‘n profiel-artikel oor “oom” Boggom geskryf wat heelwat kommentaar uitgelok het.

Susan Botha van Groot FM 90.5 het die artikel raakgelees en kortliks bespreek op Kom Ons Praat Daaroor. Hier is ‘n klankgreep uit die radioprogram:


Boggom se trop boggomjane was self nuuskierig en is ook die geleentheid gegun om vrae te stel, wat oom Boggom na die beste van sy vermoë beantwoord het.

LBW: Wie is Boggom en hoe het die handelsnaam ontstaan?

As klein kannetjie het oom T.O. Honiball se strokiesprente my vreeslik gefassineer. Oom Kaspaas se aandik-stories en “nefie” wat dit moes aanhoor het my laat skaterlag, maar Adoons-hulle se kaskenades was by verre my gunsteling.

Baie jare later, danksy Facebook, het ek ‘n punt in my lewe bereik waar ek my skryftalent met uitgesoekte vriende en familie kon begin deel. Die terugvoer vanuit hierdie binnekring was ongelooflik positief en het my genoeg selfvertroue gegee om my eie Facebook blad te stig onder ‘n skuilnaam. My eerste keuse was natuurlik Adoons, maar ek het by nabetragting op Boggom besluit uit respek vir oom T.O. se werk.  Die naam is vanselfsprekend ‘n kopknik na die oorspronklike  Adoons, wat moontlik verlangs familie van Boggom mag wees.

Kort hierna is ek vir die derde keer binne ‘n 6-jaar periode afgelê en was ek werkloos en sonder ‘n inkomste. My noodfonds was nie genoegsaam om my aan die lewe en aan die skryf te kon hou nie en ek moes baie vinnig ‘n ander plan beraam om ‘n inkomste te genereer.

Vir sowat 18 maande het ek klein sous- en dranktafeltjies uit hout vervaardig en aanlyn verkoop onder die Boggom handelsnaam. Terselfdertyd het ek weekliks ‘n humoristiese “Boggom Berig” geskryf om myself op te beur, en dit Vrydagmiddae op my Facebook blad geplaas. Die Boggom Berig was ‘n komiese opsomming van die week se gebeure in my plaaslike gemeenskap.

Dié Boggom Berig was ontsettend populêr en het daartoe gelei dat ek uiteindelik ‘n ongelooflike groot “trop” Afrikaanssprekende aanhangers van regoor die wêreld versamel het, wat ek deesdae daagliks op Boggom se Facebook blad en webwerf vermaak en inspireer.


Ruanda Lewis: Jy gebruik die term “boggomjane” gereeld. Is dit ‘n nuwe woord waarvan ons nie kennis dra nie?

Op ‘n dag het ek tot my groot verbasing in die kommentaar van my plasings raakgelees dat die vroulike troplede na hulself begin verwys as “BoggomJanas”. Die manlike ondersteuners word toe natuurlik “BoggomJanne”.

‘n  Trop boggomjane bestaan dus uit BoggomJanne en BoggomJanas.


Yvette Gouws: Beteken dit jy is die trop se brandwagbobbejaan?

Dit lyk my die trop het eenparig besluit dis die geval, ja. Ironies genoeg woon ek tans in Magalieskruin, Pretoria – wat beteken ek kan baie maklik pad vat en gou die Magaliesberg klim, op ‘n plat klip gaan sit en die verte intuur soos ‘n windhond op ‘n lang afdraende.


LBW: Vertel ons bietjie meer van Boggom Vellies, die reeks?

Ek wou sedert Boggom se ontstaan (in September 2016) ‘n produk aan die trop smous wat net so uniek soos Adoons en sy familie sou wees, maar tog ook deel vorm van ons Afrikanerkultuur en geskiedenis. Kwaliteit, handgemaakte vellies waarmee jy kan bergklim soos ‘n wafferse bergbobbejaan was dus net die ding.

Boggom Vellies het amptelik in Februarie 2019 afgeskop.

Om by die “bobbejaan klim die berg” tema in te skakel is my mansvellies vernoem na drie bergreekse, na gelang van die snit:

  • Die Magaliesberg is Boggom se DKW (dans, kerk & werk) vellie, ideaal om aan te trek wanneer jy moet dorp toe;
  • Die Sederberg het ‘n hoër snit en is dus ideaal vir boere wat in die veld of op landerye werk; en
  • Die Drakensberg ryg hoog op vir stewige ondersteuning om die enkels en is vir dié rede uiters geskik vir jagters wat gereeld taai terrein aanpak.

LBW: Wat maak jou Boggom Bergpatat damesreeks vellies so uniek?

Verby is die dae wat BoggomJanas noodgedwonge verlief moes neem met ‘n onvroulike, breë mansvellie. Boeremeisies word tog te lekker voorgetrek, aangesien my Boggom Bergpatat vellies spesifiek vir dames ontwerp is.

Boggom se Bergpatatte is stylvol en supersag. Danksy die vroulike ontwerp kan dames met ‘n geruste hart die UK nommer bestel wat hulle normaalweg sou dra.

Die BoggomJanas in my trop is natuurlik gaande oor die wye reeks kleure wat beskikbaar is, en wat gemak aan betref… ‘n vroulike marathon-atleet het net nou die dag laat weet dat sy haar Bergpatatte bo haar hardlooptekkies verkies. Indien dit nie ‘n getuigskrif vir Boggom vellies se gemak is nie, weet ek jou wrintiewaar nie.


Maureen Thomas en Dirk Lensley wou weet: Boggom word nou ‘n welbekende handelsnaam. Is daar ander produkte wat jy in die toekoms by die reeks gaan byvoeg?

Daar is ‘n hele paar ander Boggom produkte in die pyplyn. Indien daar troplede is met unieke, kwaliteit produkte wat op soek is na ‘n mark, kontak my gerus.


Annetjie Visagie: Waaraan skryf jy Boggom se sukses toe? Enige wenke vir voornemende entrepreneurs?

Doen sover moontlik alles self, na die beste van jou vermoë. As jy nie weet hoe nie – leer hoe. Destyds moes ek biblioteek toe; deesdae is daar ‘n YouTube video wat jou sal wys hoe om feitlik enigiets onder die son baas te raak.

‘n Uitstekende, kwaliteit produk is jou eerste stap; innoverende maniere om jou produk te bemark is die volgende. Moenie ‘n skaap wees wat bloot die trop volg nie – wees anders. Bemark anders. Dink anders.

Wees bereid om 16 – 20 ure per dag in te sit, 7 dae ‘n week.. Wees bereid om al jou luukshede prys te gee. Dit sluit jou vrye tyd en ontspanning in.

Laastens: dit neem onveer 10 jaar om “oornag” ‘n sukses te word. Wees bereid (en voorbereid) om harder te werk as wat jy in jou lewe nog ooit vir iemand anders gewerk het. Indien deursettingsvermoë en ywer nie twee van jou sterkste punte is nie… laat vaar jou idee sommer nou.


Mariaan Linde: Brei bietjie uit oor die twee slagspreuke waarvoor Boggom bekend is?

Maroelas en al daai mooi dinge is Boggom se oorspronklike slagspreuk en is sinoniem met lewensvreugde en dankbaarheid.

Kyk noord en boggom voort het twee betekenisse:

Aan die een kant is dit vir my ‘n lewensfilosofie/uitkyk – waar jy die negatiewe rondom jou afskud en op ‘n positiewe toekoms fokus; en

aan die bemarkingskant is dit wat jy doen elke keer wanneer jy jou paar Boggom vellies aantrek en begin stap met hulle. As ‘n bonus is dit ‘n stoute slagspreuk wat die trop daagliks gebruik.


Anni van der Merwe: Ons het nou al ‘n kykie gekry na jou humoristiese skryfstyl danksy jou gereelde plasings op Facebook. Kry jy jou inspirasie uit jou wedervaringe van jou lewe, of is dit fiksie wat jy uitdink?

Baie min van my skrywes is fiksie, meeste daarvan is gebaseer op my eie wedervaringe. Soms moet jy fyn lees om die hartseer raak te lees… maar dis altyd daar.


Estelle Greyling Botha: Waar kom jy aan jou pittige uitlatings en spitsvondigheid?

Ek het baie beslis my sin vir humor by my dierbare ma geërf. Sy het al die stampe, stote en geweldige beproewinge wat sy in haar lewe ervaar het – selfs tot en met haar dood aan kanker op ‘n vroeë ouderdom – vierkantig in die oë gekyk en met ‘n glimlag die hoof gebied. Altyd met ‘n glimlag, dis waarvoor ek haar sal onthou. Sy het die besondere gawe gehad om almal om haar se las ligter te maak deur ‘n positiewe woord; soms deur om bloot te luister.

Die grootste les wat ek by haar geleer het, was om mense rondom jou se lewe op te vrolik. Hopelik doen ek juis dit deur middel van my skrywes, uitlatings, en spitsvondigheid.


Heidi Frost en Juanita Kruger Maritz wou beide weet: Wat inspireer jou?

Beslis my trop boggomjane. Elke dan en wan kry ek uit die bloute ‘n riem-onder-die-hart kompliment van iemand wat’n plasing geniet het, of wie se dag ek kon inkleur deur middel van ‘n pittige plasing of ‘n komiese kwinkslag.

Troplede wat ‘n paar vellies by my aankoop, sorg uiteindelik vir ‘n dak oor my kop en kos op die tafel. Hierdie inkomste hou my aan die lewe. Wanneer ek egter pragtige komplimente oor my skryfwerk vanuit hulle geledere ontvang, is dit ongelooflik inspirerend en hou dit my aan die skryf.

Dis ook heerlik om te sien hoedat die boggomjane saam gesels wanneer ek ‘n interessante onderwerp op Boggom se Facebook blad aanroer. Om te skryf is uit die aard van die saak ‘n eensame beroep. Omdat ek feitlik ‘n kluisenaarsbestaan voer, is hierdie daaglikse interaksie en gesprekke met die troplede op sosiale media, kos vir my siel.


Bianka Prinsloo: Noem ‘n paar hoogtepunte sedert Boggom se ontstaan?

‘n Vroulike troplid, Amber Rabie, het uit die bloute ‘n kunswerk (akriel op papier) gedoen van ‘n brandwagbobbejaan en twee vellies. Die tan en olyfgroen vellies is van die eerste “Limited Edition” Bergpatatte wat ooit vervaardig is. Hierdie kunswerk spreek vir my boekdele van die trop se onderskraging en onwrikbare geloof in die Boggom handelsnaam en waarheen ek op pad is.

Amber Rabie se Brandwagbobbejaan en Boggom Vellies

Boggom Vellies was nie bloot slegs ‘n idee wat op ‘n dag uitgedink en binne ‘n week vervolmaak is nie, maar het meer as 2 jaar geneem om te realiseer. Die heel eerste keer dat ek die Boggom-geel etiket op ‘n paar Bergpatatte sien pryk het (in 2019) was so onwerklik dat ek skoon bewoë geraak het.

Elke keer wat ‘n troplid laat weet dat ek hulle dag positief omgedraai het, hulle raakgeskryf het; iemand se dag gemaak het – is ook ‘n hoogtepunt.


Jennifer Claassen: Vertel ons meer van Boggom se toekomsplanne?

Die onmiddelike plan is (nog steeds) om genoeg te verdien om aan die lewe te kan bly, om sodoende uiteindelik te kan skryf. Indien Boggom per ongeluk iewers langs die pad ‘n welbekende handelsnaam word is dit goed so. Ek sal beslis weekliks flikflakke in die gang af doen.

Ek sou egter bitter graag lede van die trop wat in afgeleë, interessante plekkies regoor Suid-Afrika woon persoonlik wil ontmoet, ‘n reisjoernaal daarvan hou op Boggom se Facebook blad – en die stilte en natuurskoon van sulke plekkies as inspirasie gebruik om “eg” te kan skryf. Dis onmoontlik om ‘n kampvuur te ruik, moerkoffie te proe en terug te leun teen die skurwe bas van ‘n kameeldoringboom terwyl jy ingehok word deur vier mure in ‘n betonoerwoud.


Hannelien Coetzee: Hoe vorder die skryfwerk? Is daar ‘n boek op die horison?

Alhoewel my oorspronklike doel in 2016 was om uiteindelik ‘n boek (of veertig) te skryf, is ek steeds, jare later,  ‘n ongepubliseerde skrywer – wat dalk ‘n goeie ding is. Boggom Vellies is lekker besig en neem tans al my tyd in beslag, 7 dae ‘n week.

Tans is daar’s drie projekte waaraan ek werk:

‘n Diep, ernstige boek wat ek heel moontlik nie onder die Boggom skuilnaam sal publiseer nie, bloot omdat dit leed en groot hartseer bevat. Dis wel met tye ook lighartig en humoristies, maar die klem val meerendeels op die lewenslesse wat ek langs die pad geleer het. ‘n Lag met ‘n traan, met ander woorde. Dis ‘n moeilike boek om neer te pen, aangesien ek myself emosioneel uitmergel met die skryf daarvan en dit my dan ‘n dag of twee neem om weer ‘mens’ te word.

Die tweede projek wat elke dag vir my sit en loer in die vorm van klein Boggompie, is ‘n lighartige digitale toep / kinderboek / uitlaatklep. Die avonture van Boggompie (soos vertel aan oom Boggom) is ‘n verbeeldingsvlug met ‘n dieper inslag. Omdat ek eensaam grootgeword het, wil ek graag deur middel van Boggompie met die “alleen-kinders” gesels en hulle laat blom. Al wat kind is, is natuurlik baie welkom, maar die fokus is op kinders wat dalk mag voel dat hulle nie “inpas” nie.

Laastens werk ek aan ‘n heerlike verrassing vir my trop boggomjane. Die aap moet liefs maar in die mou bly vir nou.

(En ja, die karakters in al my boeke – klein Boggompie inkluis – dra Boggom vellies.)


Comments 3

  1. Wow, ek het dié artikel baie geniet! Dankie vir die wonderlike stories en die uitstekende produkte!

  2. Traan in die oog van n trotse Boggomjanna! Só mooi gesê, dis asof ek nóú eers my Brandwagbobbejaan se hart ken! Ek lief jou sommer baie ou Boggom!

  3. Post
    Author

    Dit gaan my verstand te bowe dat ek na die plasing van hierdie artikel, so baie korrespondensie ontvang van verskaffers wat die moer in is omdat ek nie meer van hulle gebruik maak nie, want ek is nou “famous” of blykbaar “te goed vir hulle”.

    Nee meneer – die kwaliteit van jou produk/diens het veel te wense oorgelaat, DIS hoekom ek nie meer van jou gebruik maak nie. Daar word ‘n Boggom logo op dit wat jy aan my verskaf, aangebring. Indien dit nie ‘n kwaliteit produk is nie, gaan ek ontslae raak van jou as verskaffer.

    Indien jy nie eens twee plankies aan mekaar kan lym nie – gaan ek ontslae raak van jou as verskaffer.
    Indien jy nie die middel van ‘n plank kan bepaal nie – gaan ek ontslae raak van jou as verskaffer.
    Indien jou laserwerk krom en skeef is – gaan ek ontslae raak van jou as verskaffer.
    Indien jou naaldwerk nie op standaard is nie, en jy swak kwaliteit knippies verskaf- gaan ek ontslae raak van jou as verskaffer.
    Indien jy nie eens die woord “NOORD” kan spel nie (soos in “kyk nood en boggom voort”) – gaan ek ontslae raak van jou as verskaffer.
    Indien jy ‘n kwaliteit produk of diens belowe, maar ‘n swak kwaliteit produk of diens lewer – – gaan ek ontslae raak van jou as verskaffer.
    Indien jy nie kan bybly met die volumes wat ek van jou verwag nie- gaan ek ontslae raak van jou as verskaffer.

    Ek is nie ‘n moeilike kliënt nie – ek lewer ‘n kwaliteit produk aan my kliënt. Ek verwag slegs dieselfde van jou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *