Bobbejaan blameer Facebook groep

Bergbobbejaan blameer Facebook groep vir eensaamheid, ballingskap

‘n Onlangse Facebook plasing het weer herinneringe uit my verlede opgediep; ou wonde oopgekrap. Ek het besluit die pad van genesing mag dalk daarin lê om hart oop te maak teenoor die trop.

Eens op ‘n tyd was ek ‘n sprankelende alleenlopende individu, ‘n borrelende bobbejaan wat iets vir die samelewing kon beteken. Die oorgrote meerderheid van die grappies wat ek geken en met smaak kon vertel was relatief skoon, selfs al was baie van hulle ietwat stowwerig en opgediep vanuit die oude doos.

Sosiale afsondering en ‘n kluisenaarslewe het my genoop om destyds (in 2014) by die “Eks van die Ooste” Facebook groep aan te sluit. Tydens die oriëntering is my nasate nagegaan, my aapsuit geinspekteer en het ek selfs ‘n afslagkoepon van ‘n haarsalon, geleë in die hoitie-toitie Ooste van Pretoria, ontvang.

Oopmond het ek daagliks gade geslaan hoedat M-die-Moerige (* nie haar regte naam nie) haar magtige admin-septer swaai en dagdrome verwoes, terwyl Oom L-die-[afgetrede]-Laeveld-Leeu (* ook nie sy regte naam nie) nou en dan dwarsklappe onder die niksvermoedende diere uitdeel.

Nou sien – oor die algemeen vermoed mense dat, wanneer jy stil is, jy ook dom is. Dis egter eers wanneer jy uiteindelik jou bek rek, dat hulle vir ‘n feit wéét jy is toe nou wragtagwaar dommer as grond.

Dom bobbejaan wat ek is maak ek toe my eerste fout, en gaan rek my bek op ‘n dag wat nie naastenby ‘n Maandag is nie. Daar is klaarblyklik ‘n ongeskrewe Mond-Oopmaak-Slegs-Op-Maandae-andersins-Hou-Jy-Jou-Smoel reël wat op die groep geld, wat Aapstes nie van geweet het nie.

Die daaropvolgende stofstorm asook die geniepsige tik oor my knopperige kneukels het my steeds nie daarvan weerhou om kwinkslae op Dinsdae te begin kwyt raak nie. Op ‘n stadium het ek selfs die Vrydag-grense gaan toets, en gewaagd ‘n woordraaisel op die groep geplaas – onbewus daarvan dat M-die-Moerige* en Oom L-die-(afgetrede)-dubbel-L* onweerswolke besig was om onheilspellend saam te pak.

Een mooie Maandagoggend in 2015 plaas ‘n dame (Margaret?) die volgende op die groep, heel moontlik omdat die korrekte benaming vir “ryspapier” haar totaal ontgaan het:

OPSUK NA DAAI VELLE WAT JY AN DI ONDER KANT VAN JU KOEK SITdaai vrou op die Eks van die Ooste Facebook groep

Nou ja.

Omdat ek uit pure nuuskierigheid in die comments van die plasing begin vra het waddiemoer ‘n “koekvel” is, is ek toe nou sonder seremonie uit die wildtuin verban. True story.

Eers nadat ek vir meer as ‘n week aanmekaar Lettie-LangLip-styl aan die buitekant van die wildsheining op en af geloop het, het ‘n vriendin uiteindelik daarin geslaag om die sad storie uit my uit te trek. Ek was ‘n emosionele wrak; snot en trane getraumatiseer. Sy het sonder my medewete en toestemming by Oom L-die-dubbel-L* gaan mooi broodjies bak, met die gevolg dat my sensuur – onder luidkeelse protes, met gepaardgaande dreigemente en vreesaanjaende handgebare, natuurlik – gelig is.

Ek is weer toegang gegun tot die wildtuin. Die son het op die savanna geskyn; lang gras het gewuif in die ligte bries, die Circle of Life klankbaan het saggies in die agtergrond gespeel; kameelperde het aan akasiaboomtoppe gevreet. Dit was kompleet soos ‘n scene uit The Lion King.

Die idilliese illusie het egter nie lank gehou nie.

Breinlose bobbejaan wat ek is, gaan plaas ek vroeg in 2016 ‘n vuurhoutjieraaisel op ‘n Sondag, ‘n trivia tidbit op ‘n Donderdag, ‘n snaakse meme op ‘n Woensdag, en ‘n gesegde, ‘n kwinkslag én ‘n kopkrapper, op ‘n Dinsdag.

Wat jy gemis het

Toe’s die gort gaar.

Oom L-die-dubbel-L* kontak my per PM en laat weet dat daar ‘n somtotaal van drié mense van die sowat sewe-en-twintig-duisend op die groep, steen en been oor my posts gekla het. Dat my plasings op Dinsdae tot Sondae ‘n blatante oortreding van die widtuinkleuterskoolreëls is, en in ‘n baie ernstige lig gesien word. Dat my aapstreke nie langer geduld sal word nie, en dat ek moet wyk, satan-bobbejaan.

Ek vou toe maar weer my bondeltjie besittings toe in ‘n vadoek, knoop dit aan ‘n digitale wandelstok vas, en vat druipstert die pad.

Wrap up scene (soortgelyk aan die einde van 'n Lone Ranger fliek)

‘n Geboë, tragiese figuur net-net binne beeld, regs van die jungle gym, afgeëts teen die oorblywende goue weerkaatsing van die son wat agter die horison sak. Die silhouette word kleiner namate die hero wegstap na die sonsondergang, die toekoms in.

Cue Bobbejaan klim die berg (sad instrumental version).

Roll credits, and fade to black.

Om vir oulaas ‘n stekie in te kry, vuur ek die volgende dag ‘n salvo aan die Drie Wyse Dwase van die Ooste wat in hulle moere in gemoan het, in die vorm van hierdie briljante, skreeusnaakse meme.

Dont be a dwaas - be lekker.

Dit was egter ‘n leë gebaar.

Sedert die ballingskap het ek my totaal onttrek van ander diere. Is ek ‘n skaduwee van die bobbejaan wat ek eens was. Skrik ek my boeglam vir skielike bewegings. ‘n Spiertjie langs my linkeroog begin onwillekeurig spring wanneer ek verby ‘n haarsalon loop, en ek kry die aakligste aapstuipe wanneer ek net ‘n sweempie van haarsproei ruik.

Horriepiep was voorheen slegs ‘n woord in die woordeboek; deesdae is dit ‘n toestand wat ek daagliks beleef.

Gelukkig is daar onlangs ‘n ondersteuningsgroep genaamd Ex van die Ooste op Facebook gestig. Ek maak nou en dan daar ‘n draai, al is dit bloot om stories uit te ruil met die wat ook daar was, wie se dagdrome ook oornag in aaklige nagmerries ontaard het.

Soms lag ons heerlik wanneer ons terugdink aan die goeie ou dae in die wildtuinkleuterskool; deel ons screenshots van ons gekoesterde memories – soos die Koekvelle plasing, byvoorbeeld. Dis egter bloot ‘n lag met ‘n traan. ‘n Klein pleister op ‘n groot seer wat, jare later, nog steeds sukkel om te genees.

Soms gaan sit ek op ‘n hopie in die hoek van ‘n donker kamer op my hurke. Met traantjies wat rol oor my bobbejaangesiggie heen. Dan flits M-die-Moerige* se outokratiese boodskappies herhaaldelik voor my verby, soos ‘n skyfieprojektor wat vasgehaak het.

Na afloop van so ‘n emosioneel-uitmergelende drie-ure selfbejammeringsessie lig ek dan weer my ken, staan op – en gaan entertain my boggomjane op my Boggom Facebook page.

Kyk noord en boggom voort,

© Boggom


NOTAS

  1. M-die-Moerige* en Oom L-die-dubbel-L* is beide skuilname. Enige verwysing na lewende mense wat actually oor ‘n sin vir humor beskik, is bloot toevallig.
  2. Moenie die Ek is van die Ooste verwar met die Eks van die Ooste Facebook groep nie. Dis soos om “The Good” te wil verwar met “The Bad” – om nie eers van “The Ugly” te praat nie.

Hierdie plasing is ook op Facebook beskikbaar vir kommentaar.