Boggom

Die kortsigtige copycat

Ek vervaardig en verkoop die oulikste houtprodukte onder my Boggom handelsnaam. Dis nou al vir meer as 2 jaar my een en enigste bron van inkomste. Sou jy dus willens en wetens my idees gebruik om ‘n inkomste mee te genereer – nog meer so indien dit jou maandelikse salaris aanvul, hoe karig ook al – dan beskou ek dit wat jy doen, as steel. Want ek is tegnies gesproke werkloos.

Jy steel my inkomste. Jy vat die kos uit my mond uit. Jy beroof my van die sekuriteit van ‘n dak oor my kop. Jy laat my sleg slaap in die nag. Jy is die rede waarom ek glad nie meer kreatief kan skryf nie, want ek bekommer my voos oor die einde van die maand se huur.

Jy het ‘n klomp doekies wat jy om jou gewetenloosheid probeer draai. “Ek moet die son oor almal laat skyn”, sê jy. Sodat ek honger moet gaan slaap? Ek dink nie so nie.

Ek probeer my enigste inkomste beskerm deur ‘n lang, duur patentregproses te begin op my oorspronklike Boggom tafeltjies. Jy en jou vriende beweer “ek is kleinlik”. Ten koste van ‘n dak oor my kop? Ek dink nie so nie.

Jy het ‘n mondvol negatiewe kritiek om te lewer, loop en vertel dat ek “skelm en oneerbaar” is. Maak my naam sleg by almal wat hulle ore wil uitleen. Stuur selfs vir my die vieslikste anonieme e-posse, waarin jy onder andere beweer ek is “faktap”.

Indien ek jou te na gekom het, sal ek jou sonder skroom om verskoning vra. Waar en wanneer, egter, het ek jou te na gekom? Hoe het ek jou besteel? Dit gaan my verstand te bowe. Ek maak en verkoop ‘n kwaliteit produk; jy steel bloot die idee en verkoop cheap knockoffs daarvan. Jy dink nie dis eerder jy wat my te na kom nie? Wat my ‘n verskoning skuldig is nie?

Jy het jou egter misreken. Jy ken my deursettingsvermoë en my ‘aanhouer-wen-attitude’ sleg. Dit was ‘n opdraende stryd tot dusver, danksy jou. Of dalk moet ek eerder sê: ten spyte van jou.

Ek het lank stilgebly. Ek was die minste.

Jy het vreeslik lekker vir my gelag; selfs openlik vir almal vertel dat mens nie my idees kan patenteer nie. Surprise, surprise. Bloot omdat JY beweer mens kan nie? Wat het jy al gepatenteer?

Dis 2 jaar later, en die Boggom “brand” het gegroei tot meer as 19,000+ followers op Facebook. Van zero af.

Twee jaar later. Waar is jou knockoffs se “brand”, meneer copycat? Hoeveel followers het jy op Facebook? Hoekom is jy so stil?

Ek wil jou tog wel bedank, want soos genoem: jy het jou sleg met my misreken. Dis mense soos jy wat my die afgelope 2 jaar laat uithou, aanhou en bek hou het. Mense soos jy wat my “resolve” met rasse skrede verbeter het.

Mense soos jy, wat nie skroom om ‘n ander se kos uit sy mond te vat nie – wat my hierdie afgelope 2 jaar geleer het hoe vieslik en agterbaks my eie mense kan wees.

Het jy maar probeer om met my te probeer meeding op grond van kwaliteit, was jy my (en ook ander se) respek waardig.

Goedkoop koop is duur koop, en oor die algemeen is mense nie dom nie. Die verskil tussen ‘n kwaliteit produk en ‘n knockoff is ooglopend sigbaar. Die man wat moeite doen se handewerk, in vergeleke met die ou wat ‘n quick buck wil maak se afskeepwerk. Boggom, wat erg trots is op sy eie werk, teenoor Sipho en Johannes wat vir jou werk – en vir wie planke saag bloot ‘n piece job is.

Het jy maar ‘n kwaliteit produk gelewer, kon ek jou dalk genader het om jou eie reeks in my Negosiewinkel te verkoop. Nou verkoop jy vyf knockoffs per jaar aan goedgelowige mense. Ses, as jy gelukkig is.

Jy, plus ‘n honderd ander kortsigtige copycats – wat my daagliks soos ‘n bende beroof van ‘n dak oor my kop en kos in my maag.

So sit julle maar en wag totdat Boggom sy volgende idee vrystel, sodat julle dit wéér kan copy – want nie een van julle kan uit sy eie met ‘n oorspronklike idee vorendag kom nie.

Dis mos makliker om my te besteel en sleg te sê.

© Boggom

Hierdie plasing is ook op Facebook beskikbaar vir kommentaar.