Kappie tannie

Die versteurde Voortrekkers

Soos in enige gemeenskap die geval is, glo ek dat daar selfs destyds met die Groot Trek ‘n paar individue saam is wat nie altyd all there was nie. Mense wie se wielietjie draai, maar die hamster het al lankal afgeneuk.

Die mooi Afrikaanse uitdrukking sou wees “van lotjie getik”.

Nie dat die Voortrekkerleiers self al hulle varkies op hok gehad het nie. Jy moes effe getik wees om kaalvoet die Drakensberge te wil oor. Of bloot goed moerig en gatvol vir die Engelse.

Dit het dalk kwaai romanties geklink; veral nadat jy ‘n groot trek aaptwak gevat het. Stoksielalleen die onbekende wildernis in. Nie ‘n tolhek of ‘n spietkop te bespeur vir ‘n duisend seemyl nie. Salig, man.

Alles was klopdisselboom – totdat Katryntjie een sonskyndag haar verlore blokfluit in die wakis ontdek het. Aangesien sy geen instrument kon bespeel om haar lewe te red nie en nog toondoof was op die koop toe, is sy eers die kampvuur, en toe later die laer belet.

Kort voor lank het die toondoofstes van die toondowes by haar aangesluit, daar waar sy onder die verlate kameeldoringboom haar tentjie buite hoorafstand van die laer opgeslaan het.

Soort soek soort, en dit was nie te lank nie of die versteurdes het hulle oor haar “ontferm”, en hulle waens gaan staanmaak langs Katryntjie se tent. En toe is die gort gaar. Jippie jippie jip, my ou ryperd.

[/cs_text]
Die mooi Afrikaanse uitdrukking sou wees “van lotjie getik”.Boggom

Sou die trekleier meer oplettend en besorgd was oor Katryn, het ons nie met allerhande weird liedjies in die FAK gesit vandag nie. Dalk was hy op ‘n slag binne hoorafstand van Katryntjie en Koor, en het dit vir hom heel onskuldig geklink in die begin:

“Vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny,
en vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny.”

Ten minste het iemand die blokfluit begrawe, het oom Theuns Trekleier dalk by homself gemymer. Maar nou ja, soos dit mos maar altyd gaan – hoe later, hoe kwater.

Wat oom Theuns Trekleier totaal gemis het, was die refrein:

“My geliefde hang in die bos,
my geliefde hang in die bos,
my geliefde hang in die bitterbessiebos.”

DUDE.

Was jy en Kinky Katryn weer ‘n hond in ‘n bos aan’t vrye? Watse perverse, versteurde Voortrekker dink sulke lirieke uit?

Kort voor lank het kleuters met traanstrepe oor hulle wange, kommerwekkende rympies begin sing wat dood onskuldig klink in die begin:

“Koljander, koljander so deur die bos,
my Ma en Pa kook lekker kos, [so far, so good…]

my boetie verstik aan ‘n druiwetros,
die laaste een se kop is af.”

DUDE.

Dis alles Katryntjie met die blokfluit se skuld.

Maroelas en al daai mooi dinge,

© Boggom


Hierdie plasing is ook op Facebook beskikbaar vir kommentaar.