Richard Gere – hoedat ek weet hy’s ‘n opregte omgeemens (14 Mei 2017)

My generasie, soos wat Steve in een van sy talle boeke skryf, is bekend as die “met/sonder” generasie. Ons het beide “sonder”, maar ook “met” die huidige tegnologiese wonders grootgeword.

Nie net met en sonder rekenaars, selfone, Google, Facebook, e-mail en die Internet nie – selfs met en sonder televisie. Toestelle wat deesdae alledaags is, soos byvoorbeeld die TV se afstandsbeheer, was vir my as kind die coolste uitvindsel ooit. Voor die koms van televisie het ek as knopknieë-seuntjie saam met my oupa Saterdae-middae, vasgenael voor die radio, na oom Spiekeries se rugbykommentaar geluister. Ek kan nou nog die Britse Leeus se toer na Suid-Afrika in 1974, asook die Springbokhelde en rugbylegendes se name van daardie gloriejare, so duidelik soos gister onthou.

Met daardie stelling gee ek natuurlik nie net my eie ouderdom weg nie, maar sommer Steve s’n ook. Ons twee is tydsgenote.

Onlangs besef ek dat dit nie slegs tegnologie is wat ver “gevorder” het sedert my kinderdae nie – maar daarmee saam ook die wyse waarop mense deesdae simpatie en empatie toon vir ‘n ander.

My ma was ‘n wonderlike omgeemens wat honderde mense in haar kort lewe aangeraak het. Ek wou skryf “selfs duisende”, maar julle gaan dink ek oordryf. Die moontlikheid is egter groot dat dit tog wel meer as ‘n duisend siele was.

Gebroke katte, honde, voëls en ‘n verskeidenheid ander diere het deur die verloop van die jare by ons geloseer. Dis dalk diere-instink, wie sal weet – maar ons beskeie huisie was altyd ‘n hawe. Daar was ook gereeld ‘n deurloop van gebroke mense, wat by Ma kom hulp en raad vra het. Sy het gesond gemaak waar sy kon, raad gegee waar sy kon, pleisters op stukkende emosies geplak waar sy kon.

‘n Dag wat my altyd sal bybly, was die dag wat ek as gevolg van omstandighede (as ‘n 23-jarige man, toe al) vroegoggend saam met Ma bus gery het stad toe. Sy het vrek ver van die huis af gewerk , en het op Kerkplein in Pretoria haar tweede bus gehaal.

Ek stap saam met haar na die volgende bushalte toe. Drie boemelaars sit op die trappies aan oom Paul Kruger en sy burgers se voete. Ek vermy oogkontak. Ma stap nader en groet almal op die naam, deel drukkies uit, vra uit oor hulle welstand. Groot is my verbasing; nog groter is die besef dat my eie Ma selfs hierdie afgeskeepte boemelaarsiele daagliks moes aangeraak het.

Jare later sien ek my eie kinders dieselfde ding doen, en my hart swel.

My Ma is van ons weggeneem lank voor Facebook se bestaan. Ek het geen idee hoe sy empatie en simpatie teenoor haar medemens sou probeer toon het met deesdae se tegnologie tot haar beskikking nie. Ek kan my nie indink dat dit enigsins aanklank sou vind by haar Patch Adams omgeemenswees nie.

Met hierdie nuwe tegnologie tot ons beskikking, plak ons deesdae pleisters op iemand se emosionele wonde deur ‘n post te “like” (of deesdae ‘n traantjie-gesiggie daarop te sit). Jy het mos nou ge-kliek en ge-traan; jou deel gedoen. Die persoon aan die ander kant voel nou sommer stukke beter. Dan nie?

Indien jy sou voel ‘n blote “like” is darem ‘n bietjie te skraps, sou jy jouself beter laat voel deur ‘n comment te maak, of ‘n prentjie te plak. Nou het jy darem meer gedoen as die gemiddelde. Nou voel die persoon aan die ontvangskant heelwat beter.

Weet jy – nee, hy/sy doen glad nie. Want jy het nie eers die moeite gedoen om jou gat uit jou stoel uit te lig nie. Selfs net jou foon op te tel en die siel te bel nie. In jou motor te klim en die mens wat dit so bitter nodig het, ‘n drukkie te gaan gee nie.

Ek moet bieg – ek is self skuldig. Persoonlik het ek egter ‘n ander stukkie gereedskap in my arsenaal – ek hou van skryf. Die persoon aan die ontvangskant mag dus ‘n lang omgeebriefie van my ontvang via e-mail. Dit laat my darem (effens) beter voel – en hopelik die persoon aan die ontvangskant ook. Maar dis darem wragtag ‘n sad en sorry excuse vir daardie stywe beerdrukkie.

Ons is emosionele gevangenes van hierdie nuwe tegnologie, gebonde aan ons rekenaars, ons tablets en ons selfone. Ons het onbewustelik emosioneel bitter hard en koud geword met hierdie sogenaamde “sosiale”, onpersoonlike media.

Sowat vier jaar gelede was Richard Gere ‘n gas op ‘n Amerikaanse “live show”. Dit mag moontlik op Oprah gewees het; ek kan nie mooi onthou nie. Die onderwerp onder bespreking was intens emosioneel – soveel so dat een van die vroue in die gehoor onbedaarlik aan die huil gegaan het.

Richard het net daar, “live television” of te not, opgestaan uit sy stoel uit. Die mikrofoon (tesame met die se drade) wat aan sy lapel vas was, asook die elektroniese boksie wat die tegniese span aan jou belt se agterkant vasmaak, het doer getrek toe hy die gehoor begin instap – reguit na die ontstelde vrou toe.

Hy het nie ‘n saak gehad met die tegnologie, of die sosiale norme wat hom “gebonde” gehou het aan sy ateljee-stoel nie. Met trane vlak in sy eie oë, is hy tussen die mense in na die hartseer vrou wat hy van geen kant af ken nie – en het hy haar ‘n beerdruk gegee, op sy hurke langs haar gaan sit en met haar gesels totdat sy kalmeer het.

Suiwer deernis, empatie en simpatie – sonder Facebook se plastiese tegnologie. Soos wat ‘n opregte omgeemens sou doen.

© Boggom

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *