Jy was nie meer daar nie (8 Mei 2017)

Jy was nie meer daar nie

Ons was daar vir mekaar vir baie lank. Mekaar se maatjies, mekaar se optel-na-nuwe hoogtes, mekaar se huppel-in-die-stap, mekaar se blink-oog-inspirasie, mekaar se skaterlag. Ons was soveel meer as net mekaar se beste vriende – ons was ook bondgenote, minnaars, sielsgenote. Ons het selfs ons eie bende gestig, lidmaatskap beperk tot net ons twee. Ons was trots daarop dat ons verhouding só uniek was, dat ons later ‘n inkomste begin genereer het uit mekaar se ons-vul-mekaar-aan. Waar in die wye wêreld kry mens meer uniek as dit?

Ons was vir baie lank mekaar se ons – totdat ons op ‘n dag ‘n ek en ‘n jy geword het.

Ruiterlik moet ek erken dat ek jou begin afskeep het. Dat ek eerste was met nie-meer-ons. Maande later sê jy vir my – maar jy was gelukkig met ons. Hartseer gedagte, skrale troos, feit bly staan – ek het ons begin afskeep.

Op ‘n dag verbreek ek my liefdesbande met jou. Ek ontbind ons bende, ontneem jou van jou lidmaatskap; verander die slot op die valdeurtjie van die bendeboomhuis.

Kort voor lank begin ek besef… ek mis my maatjie vreeslik.

My huppel-stap begin sleep-voet raak,
my oë verdof, my lag nie meer so skater nie.
Klippe, die skop ek op my eie nou,
want sien – jy was nie meer daar nie.

Donker wolke pak om my saam – ek gaan my werk verloor!
Die vrees, die beklemming kom sit yskoud om my hart,
ek hardloop, hardloop na ons boomhuis om jou te vra “wat nou?”
Maar jy was nie meer daar nie.

Jy kry ‘n nuwe maatjie, so splinternuut en blink sy speelgoed,
my tyd stap aan, die wolke swaar, die kolk van depressie maal en maal;
die beklemming groot,
want – jy was nie meer daar nie.

Ek laat briefies vir jou onder ons geheime klip, selfs ‘n kortverhaal in kode,
die bendehuis word nie deur jou besoek, jy speel saam met jou nuwe maatjie.
Jou goedjies in ons bendehuis word dof van stof, en ek… ek mis my maatjie.
Want jy was nie meer daar nie.

Ek stap ons saamloop-spore terug tot by die heel begin,
waar ons kaalvoet-verlief ons eie voetpad begin loop het.
Dis seer, dis seer, so bitter seer…
want jy was nie meer daar nie.

Ek huil en rou, ek selfverwyt, ek kolk af in my depressie,
ek skryf en skryf uit magteloosheid, doen ondersoek,
en vra ‘seblief, vergewe my? Jy hoor my nie, want sien…
jy was net nie meer daar nie.

My siel bedaar, die storms woed uit, en ek besef
daar’s ander wat my ook nodig het.
Ek kan maar net sowel tyd aan hulle spandeer, want sien…
jy’s tog nie meer daar nie.

Gebroke mense kruis my pad, en ek verskuif my fokus.
Jy speel huis-huis op die plaas van jou nuwe maatjie.
Ek loer vir oulaas in by ons ou boomhuis, en kom tot die besef…

Jy is glad nie meer daar nie.

© Boggom


‘n Uittreksel uit Boggom se boek (waaraan hy steeds skryf dat dit klap).

In “Aapstreke Volume 1: van Rotfontein na Magalieskruin”, skuil daar ‘n hele klompie verrassings. Dis nie net bloot ‘n storie nie; dis ‘n opwindende wipplankreis saam met Boggom op sy lewenspad. Daar is heelwat lag en huil, humor en hartseer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *