Hoe skryf 'n skrywer

Hoe skryf ‘n skrywer?

Die kort antwoord is: baie moeilik.

Ek glo heelwat mense is onder die indruk dat om te skryf, ‘n maklike ding is. Jy plak jou gaai neer op ‘n stoel voor ‘n rekenaar, maak ‘n MS Word dokument oop en begin tik. Hoe moeilik kan dit nou wees?

Donners moeilik, laat ek jou vertel.

As jou enjin die dag nie op al sy silinders wil fire nie, dan doen hy net nie. Jy kan op jou kop staan en Jan Pierewiet deur jou jy-weet-wat fluit – die idees wil nie kom nie, die woorde wil nie vloei nie, die bladsy wil nie vol nie. Dae soos daardie kan jy maar netsowel die f-woord hardop sê en dit los.

Eksterne omstandighede (soos bv. finansiële druk en verpligtinge) het die vermoë om jou kreatiwiteit nek om te draai, of sommer kaalhande te verwurg.

Jou gemoedstoestand dra ook ontsettend baie by. Ek daag enigiemand uit om upbeat, humoristies en lig te skryf wanneer jy in ‘n swartgallige bui is. Daai kite wil nou maar net nie vlieg nie.

Daar is tye wanneer ek van die goete lees wat ek maande gelede geskryf het, en dit weer emosie by my uitlok. Soms lag ek hardop vir my kop se stront wat ek neergepen het, ander kere klem die seer om my hart – en partymaal (soos juis nou) is ek bang om weer besoek te gaan aflê by die man wat ek was; die omstandighede wat ek moes verduur.

Ek sal moet, al is dit hoe moeilik. Dit gaan deel vorm van Aapstreke 1, dis deel van my storie – maar ek weet voor my heilige siel dat daardie herbesoek my gaan opdons vir weke. My tranerig en huilerig in ‘n hoek gaan laat vir dae.

Skryf is nie bloot net skryf nie. Dis nie net iets wat jy gou as ‘n “afterthought” na werk, iewers tussen 20h00 en 21h00 inpas nie. Dis nie iets wat jy oor naweke doen as ‘n stokperdjie nie (wel, seker nie as jy dit bloot as ‘n stokperdjie wil doen nie).

Dis siel en hart se dinge ontbloot, skryf. Dis lag en dis huil, dis hartseer en dis alleen. En dis donners moeilik.

Maroelas en al daai mooi dinge,

© Boggom


Hierdie plasing is ook op Facebook beskikbaar vir kommentaar.