Kampvuur

Laataand verlange

“As ek saans met my maats om die kampvuur sit,
kampvuur sit, klop my hart van puur genot…”

Die ouer Boggomjane onder ons sal hierdie liedjie kan onthou uit hulle prille Vorie-jeug. Die jonger trop sal egter moet gaan Google vir sy oorsprong, om te probeer bepaal waar die liedjie inpas in ons herkoms.

Wanneer ek en my maats deesdae om die kampvuur sit is dit met ‘n selfoon of tablet byderhand, want sien – ons klomp sit deesdae om aparte kampvure. Bitter ver van mekaar af.

Dis steeds effe genotvol want ons kan mekaar darem PM op Facebook – maar dis net nie dieselfde as toe hulle nog hier was nie.

Ek mis my maats, ek verlang myself hartseer-stukkend na my familie en my bloed. My awesome niggie is nou al meer as ‘n dekade in NZ; sy sit langs ‘n kampvuur in die land van die silwer varing. Ander geliefde familie het gaan ver-Amerikaans, en sit deesdae langs hulle barbecue en PMs stuur. Oud-studente en kollegas van my is die wêreld vol gesaai – in die land van Oz, in die UK, in talle ander vreemde lande met twee-letter-internet-afkortings.

Kleinneefs en -niggies wat ek nog nooit in lewende lywe ontmoet het nie wissel tande, gaan skool toe met knopknieë en gradueer later van tyd in foto’s op my Facebook newsfeed. Sonder ‘n stewige boere-bladskud of ‘n stywe druk, selfs sonder dat ek weet hoe jou stem klink, skrander familielid van my.

Die vuur brand laag, en ek staan stram op om nog ‘n paar stukke sekelbos te loop haal. My oë neem ‘n rukkie om gewoond te raak aan die donkerte. Met die terugkomslag besef ek – ek sit nou alleen hier langs die kampvuur in Suid-Afrika, almal is vort…

© Boggom


Hierdie plasing is ook op Facebook beskikbaar vir kommentaar.