Labbie

Gróót Moeilikheid in Magalieskruin, Pretoria

Douvoordag Saterdagoggend 11 Maart, hoor ek vir Labstes die Labrador vreeslik en verskriklik blaf aan die onderkant van die erf, straat se koers.

Gewoonlik groet en gesels sy met die honde wat hulle eienaars vroegoggend aan ‘n leiband in die straat rondsleep/vir ‘n stappie neem. Dis doodnormaal, en dus bou ek eers heel rustig ‘n beker boeretroos voordat ek vir Labs nader roep vir haar eerste Heerlike, O So Begeerlike Bacon Beeno-beskuitjie vir die dag. Dis gewoonlik ‘n groot treat.

Terwyl my koffie brou, fluit ek vir Labbie. Sy kom om die hoek gestorm, gryp die Beeno-beskuitjie onseremonieel uit my hand uit, sluk die ding heel in – en storm weer terug om die hoek straat se kant toe, al vreesaanjaend-blaffende.

Beker boeretroos in die hand, klouter ek versigtig berg-af om ondersoek te gaan instel na die rede vir Labs se vreemde gedrag.

Tot my groot skok kom daar ‘n móérse lot mense aangehol in die straat, rigting afdraende. Uit paniekerigheid gooi ek my beker koffie dat hy daar trek, en begin binne-in die erf in dieselfde rigting weghol vir die ding wat die spul mense so jaag, tot in die hoek waar die buurman se pallisadeheining my holrug-omkyk-vordering summier staak.

Katswink, en ook omdat ek glad en geensins nie gewoond is aan sulke strawwe oefening nie (veral nie daai tyd van die oggend nie) neem dit my amper 10 minute om my asem terug te kry.

Hande op die knieë en hygend na asem as gevolg van my onbeplande Wayde van Niekerk-styl 50-meter sprint, bekyk ek die spul wat so weghol van naderby. Wat ookal die scary ding is wat hulle jaag, het so waar as wragtig eers die tyd geneem om op elkeen van sy slagoffers ‘n sticker met ‘n nommer op te plak.

Dalk het hulle ontsnap voordat die ding wakker geword het vanoggend, dink ek by myself. Kan jy jou die grootte van die hok indink waarin hy die spul moes aangehou het? Daar’s letterlik honderde van hulle, die oorgrote meerderheid met skelpienk, neongroen of padwerker-oranje jurke aan. Watse siek, selfrespecting Godzilla trek sy slagoffers só aan?

Pantoffel-ekke staan nie ‘n kans nie; die skoene wat die horde aanhet blyk doelgemaak te wees om vêr die berge en wye vlaktes in weg te hol.

Ek is veel slimmer as die spul wat so paniekerig probeer wegkom van die ding af. Ek het myself gaan toesluit in die huis en onder die bed kom wegkruip.

Maroelas en al daai mooi dinge,

© Boggom


Hierdie plasing is ook op Facebook beskikbaar vir kommentaar.