Daai “rehoming” post (1 Maart 2017)

Sukkelende skrywer, free to a good, loving home

Vreeslik baie dankie aan ‘n ieder en ‘n elk wat gereageer het op my onlangse “Sukkelende skrywer, free to a good, loving home” post op die Ooste en Montana Facebook groepe.

Dit blyk egter dat ek nie die saak mooi oordink het voordat ek die advertensie geplaas het nie, maar nou ja – dit wys jou nou net, mens kan tog wel ‘n ou skrywer nuwe truuks leer.

Ek het byvoorbeeld nagelaat om te vra of jou woning en/of kompleks skrywer-vriendelik is. Blykbaar is ‘n allemintige lot wonings en komplekse nie.

Dan het ek ook totaal uit die oog verloor dat daar ongemaklike vrae rondom my “house training” gaan wees, soos byvoorbeeld of ek my been teen jou sitkamermeubels gaan lig, al dan nie. (Goeie nuus – ek doen nie, maar dis bloot omdat ek nie meer op my hogere ouderdom so laag kan buk nie.)

Voorts het ek nie rekening gehou met die feit dat ek ge-ontvlooi en ge-ontwurm gaan moet word nie, en ook nie dat ek my eie leiband en bak sal moet saambring nie.

Laastens, iets wat my slapelose nagte gaan gee vir ten minste die volgende drie maande – is die versoek dat ek eers ge-snip en ge-chip moet word alvorens aanneming oorweeg sal word.

“Sukkelende skrywer op soek na liefdevolle tuiste”

Boggom

Die oorspronklike advertensie het gelees:

“Sukkelende skrywer op soek na liefdevolle tuiste”

Boggom is ‘n talentvolle, platsak middeljarige skrywer. Hy staan 1.89 meter in sy Garfield sokkies en laat ‘n badkamerskaal behoorlik kreun.

Die bietjie hare wat hy nog oor het is bruin, en hy het waterige blou oë wat lankal nie meer ‘n bars kan kyk nie.

Sy bankbalans is beroerd en die bron van groot vermaak by Capitec Bank se personeel.

Hy is nie reggemaak nie, maar op sy ouderdom maak dit in elk geval nie meer saak nie. Sy inspuitings is op datum en hy ontvang gereeld medikasie.

Maroelas en al daai mooi dinge,

© Boggom

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *